Toelating tot universiteite in Suid-Afrika met spesifieke verwysing na tuisleerders

29 Maart 2010

Bouwe van der Eems

Voorsitter : Vereniging vir Tuisonderwys

Inleiding

Matriek is die term wat algemeen gebruik word om die kwalifikasie aan te dui wat uitgereik word as ’n leerling sy skoolopleiding voltooi het. Die mees algemene matriek in Suid-Afrika is die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) of graad 12.

Sedert 2008 is daar ’n hele aantal regulasies vasgestel wat dit heelwat meer kompleks maak om ’n matriek te verwerf. In die verlede was dit slegs nodig om ’n enkele matriekeksamen te slaag. Nou is daar heelwat meer  betrokke by die verwerwing van ’n matriekpunt.

’n Matriek word dikwels vereis om ’n werk te kry of om toegang tot verdere opleiding te kry. Aangesien alle ouers graag wil hê dat hulle kinders ’n werk of verdere opleiding moet kan kry, is dit belangrik om te verstaan wat benodig word om ’n matriek te verwerf.

Die onderwysomgewing  in Suid Afrika

Die verwerwing van matriek is ’n onderdeel van ’n groter onderwysomgewing. Die omgewing waarbinne onderwys in Suid-Afrika plaasvind, kan beskryf word in terme van die drie belangrikste boustene:

Van die belangrikste boustene  is die volgende:

  1. Die Grondwet van Suid-Afrika
  2. Die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996
  3. Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring van 2002

Die grondwet skryf voor dat almal die reg op basiese onderwys het en dat elkeen die reg het om op eie koste onafhanklike onderwysinrigtings op te rig en te bedryf. Alhoewel onafhanklike inrigtings op eie koste bedryf moet word, mag die staat wel subsidies aan sulke inrigtings verleen.

Die SA Skolewet reël die medium waardeur leerders onderrig word, naamlik staatskole, privaatskole wat by die staat geregistreer is en tuisonderwys, asook hoe hierdie skole bestuur en gefinansier word.  Alhoewel die staat privaatskole en tuisonderwys toelaat, beteken dit nie dat die staat positief is oor hierdie mediums nie.  In 2001 maak die minister van  onderwys, dr. Kader Asmal,  die volgende uitspraak : “No. I’ve always believed in a unitary school system, like the German system, but the Constitution says there will be private schools so I have no problem with them. There are many private schools with a Cambridge examination which I have problems with. It’s based entirely on an English syllabus, and we’re trying to create a South African school system with values that are truly South African.” Duitsland is tans in die publieke oog  weens die intensiewe vervolging van tuisskolers wat daar  plaasvind.

Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring reël die inhoud wat aan leerders onderrig moet word, naamlik kennis en vaardighede wat deur die staat voorgeskryf is, asook waardes wat deur die staat bepaal is. Die belangrike  verandering wat hier gemaak is, is die groter klem op die onderrig van waardes   terwyl daar minder klem op kennis en vaardighede geplaas word.

Redes vir regulering van matriek

Diegene wat beheer het oor onderwys, het beheer oor die waardes wat deur die volgende geslag onderskryf word. Dit is die rede waarom die staat ’n belang het  by onderwys. As die staat beheer oor onderwys het, het hy beheer oor die waardes wat deur die volgende geslag onderskryf word en  hierdie beheer kan gebruik word om te verseker dat die volgende geslag vir die bestaande staatsbedeling  gaan stem in die volgende verkiesings. Die volgende geslag sal eerder geneig wees om te stem vir die party wat dieselfde waardes deel as die waarmee hy grootgeword het, eerder as waardes wat vir hom vreemd is.

Een van die kenmerke van die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring is daarom juis dat dit ’n baie groter klem plaas op die oordrag van waardes as wat in die verlede die geval was. Die oorsig van die Kurrikulumverklaring stel dit soos volg : “Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring is daarop gerig om hierdie waardes te weerspieël in die kennis en vaardighede wat dit bevorder.” In ’n toespraak op 7 November 2001 stel die minister van onderwys dit nog duideliker: “Our campaign to reinsert values into education is a multi-faceted initiative. In the first place we want to make it part of the formal curriculum, so that learners will develop tolerance and understanding through all that they learn. The draft revised National Curriculum Statement has asserted this element even more strongly than in the former outcomes,…

In die staatskole kan die staat volledige beheer uitoefen oor dit wat aan die volgende  geslag oorgedra word. In Suid-Afrika maak die wet egter ook voorsiening vir privaatskole en tuisonderwys. Die staat kan gedeeltelik beheer uitoefen oor privaat skole deur die hefbome van staatsubsidies en registrasie aan te wend. Die staat kan hierdie hefbome egter nie gebruik om beheer uit te oefen oor tuisonderwys nie. Daar is geen meganisme waardeur tuisskoolouers subsidies van die staat kan ontvang nie. ’n Baie klein minderheid tuisskolers is geregistreer by die onderwysdepartement.

Die oorblywende hefboom wat die staat gebruik om ook beheer oor privaatskole en tuisonderwys te kry, is deur middel van matriek. Aangesien matriek toegang verleen tot werk en verdere opleiding, moet ook privaatskole en ouers wat tuisonderwys gee hulle kinders voorberei om matriek te slaag. As die staat beheer het oor matriek, dan oefen die staat indirek beheer uit oor dit wat gedoen word om voor te berei vir matriek. Die doelwit van die regulasie van matriek is dus om te verseker dat die waardes van die staat aan alle leerders in Suid-Afrika oorgedra word.

Die hoofvoertuig vir die oordrag van die waardes van die staat is die leerarea van Lewensoriëntering. Enkele van die uitkomste wat die Nasionale Hersiene Kurrikulumverklaring voorskryf wat kinders in Gr. 10 – 12 moet bereik in hierdie leerarea, is die volgende:

  1. Describe the concepts ‘power’ and ‘power relations’ and their effect on relationships between and among genders.”
  2. 2. Investigate how unequal power relations between the sexes are constructed …”
  3. “Explain the value of diversity, and discuss contemporary contributions of individuals and groups in addressing discrimination and violations of human rights.”
  4. Display an understanding of the major religions, ethical traditions and indigenous belief  systems in South Africa, and explore how they contribute to a harmonious society.”
  5. Evaluate own positions taken when dealing with discrimination and human rights violations, taking into account the Bill of Rights.”

Hierdie leerarea word tans nie ekstern geassesseer nie en dit gee privaatskole en -kurrikulumverskaffers ’n mate van vryheid om dit wat die kurrikulumverklaring voorskryf vir die leerarea met hulle eie inhoud te vul. Of dit egter moontlik is om bv. Christelike waardes oor te dra deur bg. uitkomste met Christelike inhoud te vul,  is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Ook tuisskolers wat ’n kurrikulumverskaffer gebruik wie se kurrikulum in lyn is met die Nasionale Hersiene Kurrikulumverklaring moet hiervan bewus wees.

Behalwe dat die moontlikhede om die uitkomste van die kurrikulumverklaring met eie inhoud te vul beperk is, is daar ook geen waarborg dat die vryheid wat daar is om die uitkomste met eie inhoud te vul permanent gaan wees nie.

Die Rolspelers

In 2008 is regulasies rondom die administrasie van matriek deur die Departement van Onderwys uitgegee. Om hierdie regulasies te verstaan, is dit belangrik om te verstaan watter rolspelers betrokke is .

Die eerste rolspeler is die Nasionale Departement van Onderwys wie se kantore  in die middestad van Pretoria  is . Die departement is  verantwoordelik vir die opstel van nasionale wetgewing en die koördinering van die aktiwiteite van die provinsies. Die nasionale departement is onlangs verdeel in twee afdelings, een vir basiese onderwys onder leiding van min. Angie Motshekga en ‘n ander vir hoër onderwys onder leiding van min. Blade Nzimande.

’n Tweede rolspeler is die Provinsiale Departemente van onderwys wat  gesetel is in die hoofstede van die 9 provinsies. Hierdie departemente bestuur die staatskole in die provinsies. Dis ook by die provinsiale departemente waar ouers hulle kinders kan registreer vir tuisonderwys. Die provinsiale departemente het ook eksamenrade wat eksamens opstel, afneem en merk.

‘n Derde rolspeler is die Matriekulasieraad. Hulle kantore is by die UNISA-kampus in Pretoria. Die Matriekulasieraad is verantwoordelik om die minimum toelatingsvereistes tot universiteite te bepaal asook  om buitelandse kwalifikasies te beoordeel en vrystelling te verleen aan buitelandse studente wie se kwalifikasies voldoen aan die toelatingsvereistes.

Vierdens is daar die Raad vir Verdere Onderwys en Opleiding (Umalusi).  Hulle is geleë in die ooste van Pretoria en is verantwoordelik vir die monitering en akkreditering van  die standaard van assessering van publieke en private eksamenrade. Umalusi moet ook die NSS onderskryf. As Umalusi  ‘n NSS onderskryf, dan mag ‘n universiteit ’n persoon toelaat.

Laastens is die eksamenrade organisasies wat eksamenvraestelle opstel, eksamens afneem en eksamenvraestelle merk. In Suid-Afrika is daar 11 eksamenrade, naamlik 9 staats-eksamenrade en 2 private eksamenrade. Al 9 die  provinsies het ’n eksamenraad en verder is daar die “Independent Examination Board”  (IEB) en die “Onafhanklike Afrikaanse Eksamenraad” (OAR) wat onder private beheer is.

Die staatskole is almal ingeteken by die staats-eksamenrade in hulle provinsies. Privaatskole kan inteken by die staats-eksamenrade of by een van die private eksamenrade. Ongeveer 300 privaatskole is ingeteken by die IEB en ongeveer 45 CVO (Christelik Volkseie Onderwys) skole is ingeteken by die OAR.

Regulasies vir die administrasie van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

Tot onlangs kon iemand ’n matriek verwerf deur eenvoudig ’n eksamen te skryf. Indien jy daardie eksamen slaag, dan het jy ’n matrieksertifikaat verwerf. Oor die laaste jare is daar egter toenemend ’n proses van deurlopende evaluering ingevoer. Die matriekpunt word nou nie slegs bepaal deur die punt wat in die eindeksamen verwerf is nie, maar word  ook bepaal deur punte wat deur die skooljaar verwerf is.

Aan die einde van Mei 2008 is beoogde regulasies vir die administrasie van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS), of beter bekend as matriekeksamen, in die staatskoerant gepubliseer. Die publiek is  minder as ’n maand gegee om te reageer op hierdie uiters tegniese dokument van 200 bladsye. In Augustus 2008 is die finale regulasies gepubliseer. Hierdie regulasies kom op die volgende neer:

  1. Die finale punt vir die NSS bestaan uit twee komponente. Die eerste komponent tel 25%, en is die finale punte van die interne assessering vir graad 12. Die tweede komponent tel 75% en is die punt wat in die NSS-eksamen verwerf is.
  2. Die finale punt vir die Lewensoriëntering-leerarea word gebaseer op die finale punte van die interne assessering. Hierdie interne assessering moet ekstern gemodereer word deur die Departement van Onderwys, die eksamenraad en Umalusi.
  3. In graad 12 moet alle interne assessering ekstern gemodereer word deur die Departement van Onderwys, die eksamenraad en Umalusi.
  4. Leerders wat wil inskryf vir die NSS moet aan die volgende vereistes voldoen:
    1. Die leerder moet geregistreer wees by ’n publieke of privaatskool wat die NSS-kursus aanbied; en
    2. Die leerder moet voldoen aan al die vereistes van die interne assessering; en
    3. Die leerder moet voldoen aan al die slaagvereistes van graad 10 en graad 11.
    4. Registrasie vir die NSS is voor of op 15 Maart van die jaar waarop die NSS geskryf word.
      1. As ’n tussentydse reëling kan deeltydse studente inskryf vir die NSS indien hulle geregistreer is by ’n kurrikulumverskaffer wat ingeteken is by een van die eksamenrade. Enkele kurrikulumverskaffers wat  ingeteken is by eksamenrade is Breinlyn, IMPAK Onderwys, Moria en Kenweb. Om uit te vind watter kurrikulumverskaffers ingeteken is, is dit die beste om die eksamenraad te kontak en by hulle uit te vind watter kurrikulumverskaffers by hulle ingeteken is.
        Ook hier moet daar voldoen word aan die vereiste dat voldoen moet word aan die slaagvereistes van Graad 10 en 11. Dit kan gedoen word deur in te skryf by so ’n kurrikulumverskaffer vanaf Graad 10. Alternatiewelik kan daar in gesprek getree word met die eksamenrade en daar kan met hulle onderhandel word oor wat die eksamenraad as voldoende bewys sal beskou dat ’n leerder aan die slaagvereistes van graad 10 en 11 voldoen. As ouers genoegsame bewyse kan verskaf, kan die leerder ingeskryf word vir die NSS.

Hierdie tussentydse reëling bly geldig totdat ’n alternatiewe matriekkwalifikasie vir deeltydse studente beskikbaar is, of afstandsonderrig-instansies aangewys is wat deeltydse studente kan ondersteun om ’n matriekkwalifikasie te verwerf.

Dit is spesifiek die reëlings rondom deeltydse studente wat vir tuisleerders van belang is.

Universiteitstoelating

Matriek is een van die middele wat gebruik kan word om toelating tot ’n universiteit te verkry. Daar is egter meer maniere om toelating tot ‘n universiteit te kry.

Om tot ’n universiteit toegelaat te word, moet aan die volgende vereistes voldoen word:

1)      Daar moet voldoen word aan die algemene vereistes wat deur die Komitee van Universiteitshoofde vasgestel is; en

2)      Die toegangstoetse van die universiteit moet geslaag word (vir die kursusse MBChB, B in Arbeidsterapie, BSc in Fisioterapie en BSc in Dieetkunde moet Nasionale Gesondheidswetenskappe – plasingstoetse geskryf word) ; en

3)      Deur aan die vereistes van die spesifieke fakulteit te voldoen.

4)      Sommige universiteite het ’n beperking op die hoeveelheid studente wat toegelaat word om ’n program te volg. Voorbeelde hiervan is Mediese kursusse en regte. In sulke gevalle word nog addisionele keuring gedoen.

Om hierdie saak beter te verstaan,  is dit eers nodig om te verstaan waarom universiteitstoelating nodig is.

Die redes vir universiteitstoelating

Die Suid-Afrikaanse universiteite ontvang ongeveer 50% van hulle inkomste in die vorm van staatsubsidies. Slegs  24% van die universiteite se inkomste kom uit studente se studiegelde.  Die res van die inkomste kom uit beleggings en donasies.

Die universiteit kry egter slegs staatsubsidies wanneer ’n student ’n vak slaag. Dit beteken dat ’n universiteit se inkomste deur die slaagsyfer bepaal word. Hoe hoër die slaagsyfer, hoe hoër is die inkomste van die universiteit.

Die slaagsyfer van ’n universiteit word bepaal deur die standaard wat deur die universiteit gehandhaaf word. Hoe hoër die standaard, hoe laer die slaagsyfer.

Om ’n maksimum inkomste te verseker, kan ’n universiteit eenvoudig sy standaarde laat daal. Die verlaging van standaarde het egter gevolge wat op die lang termyn ’n negatiewe effek het op die universiteite. As die standaarde verlaag word, verlaag die waarde van sy kwalifikasies. As die waarde van sy kwalifikasies verlaag, kan graduandi van daardie universiteit nie meer goeie poste in die mark kry nie en ook nie meer goeie geleenthede om in die buiteland te gaan studeer nie. Wanneer dit bekend word in die publiek, gaan studente daardie universiteit begin vermy en die getalle van die studente gaan afneem.

Die universiteit moet dus poog om  terselfdertyd ’n hoë slaagsyfer asook ’n hoë standaard te handhaaf. Die manier om dit reg te kry is om ’n toelatingsbeleid toe te pas waardeur slegs studente toegelaat word  van wie met redelike sekerheid gesê kan word dat hulle die vak gaan slaag. Hierdeur kan ’n universiteit ’n sekere standaard handhaaf sonder om ’n noemenswaardige hoeveelheid staatsubsidie te verloor.

Die algemene vereistes vir universiteitstoelating

In Augustus 2005 publiseer die minister van onderwys die minimum-toelatingsvereistes tot naskoolse opleiding. In Maart 2008 word ’n hersiene weergawe hiervan uitgegee. Die vereistes word “minimum” genoem, aangesien die naskoolse opleidingsinstansies die reg het om addisionele toelatingsvereistes voor te skryf.

Die algemene toelatingsvereistes wat voorgeskryf is, kom op die volgende neer:

  1. Vir toelating tot ’n hoër-sertifikaat-studie word slegs ’n persentasie van 30% in die taal waarin onderrig op die instansie gegee word, vereis.
  2. Vir toelating tot ’n diplomastudie word ’n persentasie van 30% in die taal waarin onderrig op die instansie gegee word,  vereis, asook 40 – 49% in vier ander NSS-vakke.
  3. Vir toelating tot ’n universiteit word ’n persentasie van 30% in die taal waarin onderrig op die instansie gegee word,  vereis, asook 50 – 59% in vier NSS- vakke van ’n voorgeskrewe lys van vakke.

In Desember 2008 publiseer die Komitee van Universiteitshoofde, met die goedkeuring van die minister, ’n kennisgewing met die voorwaardes vir universiteitstoelating. ’n Kandidaat kan toelating tot ’n Suid-Afrikaanse universiteit kry indien die NSS onderskryf is deur Umalusi, of die kandidaat universiteitsvrystelling verkry het van die Matriekulasieraad.

Die kennisgewing verwys nog na “hoër graad” en “standaardgraad”, terwyl hierdie onderskeid  nie meer in die NSS voorkom nie. Daarom gebruik universiteite soms die toelatingsvereistes wat in Maart 2009 gepubliseer is om die NSS te evalueer en die vereistes van Augustus 2005 om ander kwalifikasies te evalueer.

Hierdie voorwaardes kom kortliks op die volgende neer:

1)      ’n Aantal vakke word erken vir die doeleindes van toelating. Hierdie vakke kan of standaardgraad of hoër graad wees. Die vakke sluit ’n wye verskeidenheid in wat wissel van amptelike tale, wiskunde en wetenskap tot vreemde tale, Bybelkunde, kuns, rekenaarstudie, toerisme, ens. ens.  Die vakke word verdeel in groepe A tot F.

2)      Umalusi sal ’n NSS onderskryf indien ’n leerling aan die volgende voorwaardes voldoen: [2,3][i]

  1. Tydens een sessie eksamen geskryf het oor minstens 6 vakke wat op ’n voorgeskrewe wyse saamgestel is; en
  2. Minstens 950 punte verwerf het; en
  3. Ten minste 5 vakke geslaag het en ’n minimum van 20% gekry het vir die 6de vak en die vakke op ’n bepaalde wyse saamgestel is.

3)      Umalusi sal ook ’n NSS onderskryf van immigrante en deeltydse leerlinge op sekere voorwaardes. [4,5]

4)      Die Matrikulasieraad sal onvoorwaardelike vrystellingsertifikate uitreik wanneer kandidate aan die volgende voorwaardes voldoen het:

  1. Wanneer ’n persoon ’n kombinasie van N5-  en NSS-vakke geslaag het; [10] of
  2. Wanneer ’n persoon ’n kombinasie van SYSTEM- (Students and Youth into SCience, Technology, Engineering and Mathematics) en NSS-vakke geslaag het; [11] of
  3. Wanneer ’n persoon ’n kombinasie van ASECA- (A Secondary Education Curriculum for Adults) en N3-vakke geslaag het; [12] of
  4. Wanneer ’n persoon ’n kombinasie van vakke geslaag het by buitelandse eksamenrade wat goedgekeur is deur die Matrikulasieraad; [13,14] of
  5. Wanneer ’n persoon ’n kombinasie van vakke op HIGCSE of IGCSE(van die Cambridge Internasionale Eksamenvlak) geslaag het; [15]of
  6. Wanneer ’n persoon ’n kombinasie van vakke van die gevorderde Cambridge Internasionale Eksamen geslaag het; [16] of
  7. Wanneer ’n persoon ’n graad by ’n ander universiteit wat deur die Matrikulasieraad erken word,  verwerf het; [17] of
  8. Wanneer ’n persoon ’n 2 jaar-diploma verwerf het by ’n erkende technikon of universiteit of ’n 3 jaar-diploma of naskoolse kwalifikasie by ’n erkende kollege; [18] of
  9. Wanneer ’n immigrant ’n kombinasie NSS-vakke geslaag het ; [19] of
  10. Wanneer ’n persoon ’n voorgeskrewe kombinasie van NSS-  en ekstra-kurrikulêre vakke geslaag het [20].

5)      Die Matrikulasieraad sal voorwaardelike vrystellingsertifikate uitreik wanneer kandidate aan die volgende voorwaardes voldoen het:

  1. Wanneer ’n persoon ’n voorgeskrewe kombinasie (minder as die vir onvoorwaardelike vrystelling) van NSS-vakke geslaag het;  [24] of
  2. Wanneer nie aan al die vereistes beskryf in 4a, 4d en 4e [25, 26, 27] voldoen word nie; of
  3. Wanneer ’n persoon onvoorwaardelike vrystelling gekry het tot studie aan ’n erkende universiteit in die buiteland; [28] of
  4. Wanneer ’n immigrant ’n kombinasie NSS-vakke geslaag het; [29] of
  5. Wanneer ’n persoon 23 jaar of ouer is en die senaat van die universiteit van mening is dat die persoon ’n goeie kans staan om die kursus te voltooi en die persoon ten minste 40% gekry het vir ’n kombinasie van vakke; [30] of
  6. Wanneer ’n persoon 45 jaar of ouer is en die senaat van die universiteit  van mening is dat die persoon ’n goeie kans staan om die kursus te voltooi; [30] of
  7. Wanneer die senaat van ’n universiteit van mening is dat die persoon die vermoë het om die kursus suksesvol te voltooi. In hierdie geval is die voorwaardelike vrystelling slegs geldig vir daardie universiteit; [31] of
  8. Wanneer ’n persoon vrystelling verkry het tydens die vorige bedeling. [34]

Universiteitstoelating vir tuisleerders

Om algemene toelating tot universiteite te verkry,  is die volgende van toepassing:

1)      Deur ’n NSS te verwerf wat deur Umalusi  onderskryf word. Op sy beurt kan dit gedoen word deur te registreer by ’n kurrikulumverskaffer wat ingeteken is by ’n eksamenraad; of

2)      Deur  ’n alternatiewe matriek te verwerf wat deur die Matrikulasieraad erken word (bv. Cambridge); of

3)      Deur toelating te kry deur  ’n graad te verwerf by ’n buitelandse universiteit wat deur die Matrikulasieraad erken word; of

4)      Deur ’n diploma te verwerf by ’n kollege of ’n technikon of universiteit (sien punt  4h)

5)      Deur 23 jaar of ouer te wees en 40% te kry vir ’n kombinasie van vakke en ’n verklaring van die senaat van ’n universiteit te verkry waarin verklaar word dat die student ’n redelike kans het om die kursus te voltooi; of

6)      Deur 45 jaar en ouer te wees en ’n verklaring van die senaat van ’n universiteit te verkry waarin verklaar word dat die student ’n redelike kans het om die kursus te voltooi; of

7)      Deur jonger as 23 jaar te wees en ’n verklaring van die senaat van ’n universiteit te verkry waarin verklaar word dat die student ’n redelike kans het om die kursus te voltooi. Die opsie kan slegs oorweeg word vir  besonder begaafde studente.

Samevattend kan gesê word dat universiteitstoelating bestaan uit drie stappe.

Om algemene toelating tot universiteite te kry is die eerste stap.  Om dit te verkry moet ’n NSS of iets ekwivalent verwerf word. Dis in hierdie eerste stap dat tuisskolers die vryheid het om te kies hoe om hierdie algemene toelating te verkry deur bv. ’n NSS te verwerf deur middel van ’n kurrikulumverskaffer of deur bv. ’n Cambridge-kwalifikasie te verwerf.

Die tweede stap is om die toegangstoetse van die universiteit te slaag.

Die derde stap is om aan die spesifieke vereistes van die fakulteit te voldoen. Die tweede en derde stap is egter dieselfde vir alle gewone matrikulante en tuisleerders.

Daar is ook ander moontlikhede wat in die toekoms beskikbaar kan word:

1)      Die Instituut vir Christelike Hoër Onderwys (ICHON) is besig om ’n universiteit in samewerking met die Open Universiteit in Nederland te stig. Deur hierdie universiteit kan studente toelating kry tot ’n buitelandse universiteit. Toelating tot hierdie universiteit kan op sy beurt weer deure oopmaak om toegang te kry tot Suid-Afrikaanse universiteite.

2)      Die Departement van Onderwys is tans besig om te werk aan ’n matriek vir volwassenes, wat nie gaan vereis dat leerders ingeskryf moet wees by ’n skool nie.

Tans het tuisskolers ’n keuse van moontlikhede om toelating tot universiteite  te kry en daar is aanduidings dat hierdie moontlikhede in die toekoms meer gaan word.


[i] Die syfer in die vierkantige hakies verwys na artikel in die kennisgewing.

Comments are closed.

-->