Van Riebeeck se Gebed 1652
lees meer...John Knox
lees meer...Pierre Viret
lees meer...Gereformeerde aanbidding
lees meer...GKSA 2009: Waar staan ons met artikel 7 NGB en artikel 31 Kerkorde 150 jaar later?
lees meer...deur HG Kruger – kruger@ukzn.ac.za (Durban)
Die afgelope sinode (Januarie 2009) en die huidige toestand in the GKSA kerkverband dwing ‘n mens om weer indringend na artikel 7 NGB en artikel 31 KO te kyk. Dit wil meer en meer voorkom dat ons, afgesien van Skrifbeskouing, ook toenemend oor die twee beginsels uitmekaar dryf. Anders gestel, dit kom voor asof juis hierdie twee artikels, wat Godgegewe instrumente is om kerkeenheid te troetel, tans om verskeie redes die kern uitmaak van die polarisasie wat stelselmatig in die kerk besig is om pos te vat.
Beide hierdie artikels het ook ‘n groot rol gespeel by die onstaan van die GKSA 150 jaar gelede. Professor B. Spoelstra1 toon aan dat Art 7 NGB as grond van beswaar gebruik is teen die gesangekwessie. Hy toon ook oortuigend aan dat doppers se gewetens gebind is deur menslike besluite, en nie deur die Woord en Gees van God nie. Dieselfde argumente word deur Prof. S du Toit voorgehou in sy feesrede2 tydens die 100 jarige GKSA fees in Rustenburg. Die doppers se besware in 1859 het drie hoofsake behels:
- Prediking (Die gesonde leer is verlaat).
- Kerkregering (Christus nie meer Hoof).
- Erediens (Metodistiese bidure, gesange).
‘n Mens kan nie help om die raaklyne van 1859 met die tans ontwikkelende situasie in die GKSA op te merk nie. Met die opkoms van EE3 in die laat 70’s is die uitspraak reeds gemaak3 dat die “fontein” ten opsigte van Skrifbeskouing (Die gesonde leer) brak geraak het. Wanneer vooraanstaande teoloë in die GKSA beweer dat dit sogenaamd klinkklaar duidelik is dat Jesaja 7:14 na ‘n kind in die tyd van Jesaja wys,4 of dat Psalm 110 nie ‘n direk-Messiaanse Psalm5 is nie, dan kom die vraag op of ons nog een is ten opsigte van die gesonde leer? Ons Belydenis gebruik juis hierdie verwysings (Jesaja 7:17- Art 17 NGB; Psalm 110 – art 21, 27 NGB) as gronde vir die Messiaanse voorspellings in die Ou Testament!
Hoor die professore van TSP se verklaring op Hervormingsdag 2000: “Ons spreek geen oordeel uit oor diegene wat nooit die evangelie van Jesus Christus gehoor het nie, en laat hulle bestemming oor in die hande van die Here wat oor almal regverdig oordeel.”6 Daarteenoor is die Skrif en ons belydenis duidelik, God kies uit7 en verwerp.8 Die natuur is genoegsaam sodat selfs die wat nooit van Christus gehoor het nie, nie veronskuldig word nie (Rom 1:20). Die Hervorming bely op grond van die Bybel dat Christus die enigste weg tot verlossing is.9 Watter boodskap moet ons kry as die vak Apologetiek nie meer op die TSP webwerf gevind kan word nie of as die TSP fokusarea oor reformatoriese studies10 nie meer die werke van die hervormers bestudeer nie?
Dit is ook interessant dat dit wêreldwyd erken word dat voormalige gereformeerde universiteite geswig het voor die aanslag van neo-liberalisme: “conservatives lost control over previously conservative university bastions (1920’s to 1970’s) which fell as result of pressure from new liberalism.” (Bray 1996:376-9) Dit lyk dus of die gevaarligte ten opsigte van die eenheid in leer reeds sterk flikker.
Die raaklyn ten opsigte van kerkregering word mooi opgesom deur die afgelope beskrywingspunt van die Kerkraad van Potchefstroom op Sinode 2009 oor art 31 KO. Dit gebeur meer en meer dat ‘n klein meerderheid van stemme, en nie Christus deur sy Woord en Gees nie, die kerk regeer.11 Dan gebeur dit dat belangrike besluite oor die vrou in die diakenamp, nou sus (Sinode 2003) en dan so (Sinode 2006 en weer 2009), geneem word. Kerkrade neem besluite oor kelkies, sing van alternatiewe liedere en die afskaffing van die aanddienste op grond van buite-Skriftuurlike gronde (menslike oorwegings).
Dit lyk dus dringend noodsaaklik dat die gereformeerde kerkbeskouing, naamlik dat Christus deur sy Woord en Gees regeer (en nie ‘n skraal meerderheid van stemme nie), herstel moet word aangesien die huidige toepassing van art 31 KO al groter verwydering tussen gereformeerdes veroorsaak. Menslik gesproke kan die herstel van die oorspronklike betekenis van art 31 KO die skeuring wat besig is om te ontwikkel suksesvol teëwerk. Menslik gesproke moet ons seker ongelukkig ook aanvaar dat die “verligtes” in die GKSA sodange hervorming sal teenstaan omdat dit grootliks as ‘n remskoen vir die invoer van “eiewillige” diens aan God beskou kan word.
Die art 31 KO raaklyn met 1859 raak al duideliker. Gelowiges het hulle tevergeefs op die Skrif en Belydenis beroep voor 1859. Spoelstra wys veelvuldige voorbeelde uit waar beswaardes se beroepe op die Skrif en belydenis nie beantwoord is nie. ‘n Noukeurige bestudering van (onder andere) die besware van GK Rooiwal (Sinode 2006) oor die 2001 Psalmomdigting en Sinode 2006 se antwoord daarop (ook oor Psalm 110), wys duidelik dat Skrifbegronde besware nie altyd beantwoord word nie. Die een rappart (Sinode 2006; art 216) maak selfs ‘n saak uit dat dit nie nodig was om al die besware te beantwoord nie!
Om die toenemende verwydering tussen gelowiges in die GKSA te “bestuur” (asof God nie self regeer nie, maar kerkleiers) neem die sinode dan ook meer en meer kompromisbesluite waar die eintlike besluit afgewentel word na die kerkraad, wat vry is om een van twee uiteenlopende standpunte te implementeer. Hier kan die Sinodebesluit (2000:401) oor die instel van kelkies “om gewigtige redes, met verantwoording uit die Skrif” as klassieke voorbeeld genoem word.12 Dieselfde kompromisbesluite is ook oor die 1983 Bybelvertaling, die 2001 Psalmomdigting en die 2003 vrou in die diakenamp geneem.
Op kerkraadsvlak word die gebroke werklikheidsgedagte ook met vrug ingespan om alternatiewe erediens-fasette in te voer. Die gedagte dat daar meer as een manier is om God te dien, word meer en meer gehoor; ons moet verdraagsaam wees daarteenoor en begrip daarvoor hê dat party mense groter vryheid benodig om God te dien. Sake soos die vrou in die amp, die weglating van Christus uit die 2001 Psalmomdigting13 en die beker by nagmaal word dan geriefliksheidhalwe as middelmatige sake geklassifiseer – ‘n mens mag maar daaroor verskil.
Die vraag is of so ‘n veelvuldige vrye diens aan God eg gereformeerd is, of nie. Ons vaders het art 7 NGB met groot vrug ingespan om die verskynsel te beveg. Eerstens is die Skrif duidelik genoeg dat ons as eenvoudige gelowiges dit kan verstaan. Ons benodig nie ‘n professor wat spesialiseer in studies oor hoe die sogenaamde eerste hoorders die Bybel sou verstaan het nie,14 maar ons kan self sien (in die geloofsoog– Johannes 8:56) dat Christus in die Psalms (ook Psalm 110) en Jesaja 7:14 voorspel word.
Interessant dat die standpunt oor die sogenaamde eerste hoorders selfs van buite die GKSA vanuit akademiese kringe veroordeel word. Maier (1994:p67) stel dat hierdie histories-wetenskaplike metode van interpretasie daarop neerkom dat “a papacy of experts owns the interpretative authority”. Bray (1996:488-490) negeer hierdie interpretasiemetode, waarvolgens Christus uit die 2001 Psalmomdigting uitgelaat is, tot insolvensie deur logies te verklaar dat “there is not much point in trying to work out what the response from the first hearers would have been, even on the doubtful assumption that there would have been only one such response. Careful study of the context in which the book was written can help us to understand it better, but it can never be the final criterion for interpretation.”
Tweedens is die Skrif genoegsaam en duidelik sodat ons kan bely dat “die wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin geheel en al en uitvoerig beskrywe is…” (art 7 NGB). Om dus te wil beweer dat daar meer maniere is om God te dien in terme van prinsipiele sake, kom daarom neer op die verloëning van art 7 NGB. Die Skrif sou dan nie duidelik en omvattend genoeg beskryf hoe ons God moet dien nie. Hierdie eenvoudige waarheid is kortliks vervat in die verklaring van art NGB.15 ‘n Deeglike artikel het ook verskyn in die bekende GKSA publikasie “Kosbare Goud” en word in ‘n opvolg artikel weergegee.
Die gevaar bestaan sekerlik dat hierdie aspek van art 7 NGB tesame met vraag/antwoord 96 van die Heidelbergse Kategismus16 kan lei tot beskuldigings dat gereformeerdes die regulerende beginsel aanhang. Net soos die teenpool van die regulerende beginsel nie aanvaar word nie (as God nie iets verbied nie, staan dit ons vry om dit te doen),17 is daar relatief min steun vir die regulerende beginsel onder gereformeerdes in die lig van ons verstaan van Art 7 NGB. Die Skrif is genoegsaam en duidelik genoeg (geheel en al en uitvoerig) om die beginsels oor hoe God gedien moet word, af te lei (soms sonder direkte teksverwysings). Dit gaan dus oor beginsels wat ons kan aflei en ons diens aan God strek dus veel wyer as slegs die erediens (vgl Heidelbergse Kategismus vraag/antwoord 103 en 122) .
Diegene wat die beginsel (ons wil ons Herder se stem hoor en Hom volg in die wyse waarop ons Hom dien – en nie eiewillige instellings nie) kinderlik bely en uitleef, word dikwels daarvan beskuldig dat hulle eng, versmorend, sonder blydskap en sonder liefde is. Binne die wet van die HERE is die enigste vryheid, soos ons in die Skrif leer. Psalm 19:8-9 “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel…. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.” Die vraag moet sekerlik gevra word of die gebooie van die HERE nie bots met die drang om eiewillige diens aan God in te voer nie. 1 Sam 15:2318 dien as begronding vir die verklaring van die tweede gebod wat leer dat ons God op geen ander manier mag vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (vraag/antwoord 96 Heidelbergse Kategismus). Die natuurlike/ou mens kan seker geredelik die gevoel van versmoring, engheid, gebrek aan blydskap ens. ervaar as God se wil voor menslike eiewillige godsdiens gestel word.
Met die eerste artikel is daar gepoog om aan te dui dat die korrekte toepassing en verstaan van art 31 KO en art 7 NGB absoluut nodig is en dat reformasie daaroor in die GKSA ‘n saak van dringendheid behoort te wees. Die beginsel dat die Skrif geheel en al en uitvoerig beskryf hoe God gedien moet word is egter ‘n relatief eenvoudige saak waaroor uitsluitsel verkry moet word. Of dit onder die huidige vrye gees in die GKSA moontlik sal wees, is te betwyfel. Die dieper beginsel van Art 7 NGB lê aan die hart van hoe ons die Skrif verstaan (Skrifbeskouing) en sal uiteindelik bepaal of kerkskeuring menslik gesproke afwendbaar is of nie.
In ‘n opvolgartikel word die artikel van Dr. J.P. Jooste “Die Skrif as die enigste reël vir ons geloof”19 weergegee om die gereformeerde standpunt oor art 7 NGB beter te belig.
Voetnote
1 B. Spoelstra. Die “Doppers” in Suid-Afrika 1760 – 1899. Nasionale Boekhandel, Bloemfontein, 1963.
2 Eeufees te Rustenburg. Potchefstroom 1959. Feesrede deur Prof. S. du Toit.
3 Deur sommige van die behoudende generasie predikante van die 1970’s.
4 J.L Helberg, Kerkblad, Maart 2005, 24.
5 H. van Rooy. Die nuwe Psalmomdigting: Die Messias weggelaat? HTS 60(3) 2004, 755.
6 Sien http://www.gksa.org.za/ en kies dan “Wie is ons” en “Standpunte” en dan “Hervormsondag 2000”
7 Sien onder andere Rom 8:30; Rom 9:14-21; Ef 1:4-5; Hand 13:48; Ef 1:11; 1 Petr 1:2.
8 Sien onder andere Spr 16:4; Luk 2:34b; 1 Petr 2:7-8; Rom 9:21-22.
9 Sien onder andere Matt 7:14; 22:14; Mark 16:16; Joh 1:12; 3:16,18,36; Jes 53:11; Ps 2:12; Rom 11:20; 3:22; Hebr 4:3; 5:9; 10:39;11:6.
11 Lees ook onlangse skrywes van Prof. B. Spoelstra in die Kerkblad (2008) oor die geskiedenis van die art 31 KO wysiging.
12 Die Sinode 2000:401 is herroep in 2003 maar ongelukkig is die korrekte besluit effens verlore in die 2003 Errata Handelinge.
13 Hier word beroepe gedoen dat dit menslike verskille oor interpretasie is.
14 Die oorsprong van die aspek van die histories-wetenskaplike metode van interpretasie kan herlei word na die bekende artikel deur Krister Stendahl (Kristal Stendahl, Biblical Theology, Contempory, IDB 1:418-32.) waar hy die belangrikheid van die betekenis van die teks beklemtoon het (Silva 1996:30).
15 A.D.R. Polman, Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis, T. Wever – Franeker,
16 Die tweede gebod eis dat ons God op geen ander manier mag vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.
17 Let daarop dat sodanige argumentasie handig ingespan word deur voorstanders van die vrou in die amp en die vrye lied in stukke gedien op Sinode 2009.
18 1 Sam 15:23 “….eiesinnigheid is afgodery en beeldediens….”
19 Die Kosbare Goud – Gereformeerde Geloof, 1942.